Archive for the ‘Opstanding’ Tag

Die Nuwe Formalien   1 comment

My apologies to English readers. This is a response to the South African (and predominantly Afrikaans) version of the Jesus Seminar.

Sakkie Spangenberg is al weer in die nuus. Ek steur my deesdae min aan antichristelike professors, maar die toegewyde NG tannie wat die ander dag vir my sê dat die manne van die Nuwe Hervorming haar nou anders laat dink pla my wel.

Ek onthou hoe Sakkie jare terug genoem het dat dit meer nederig is om jouself ‘n Bybelwetenskaplike as ‘n teoloog te noem, en ek reken dit is uiteindelik waar sy probleem is. Elke gelowige is ‘n teoloog, soos Barth gesê het, en elke gesprek rondom God ‘n beoefening van teologie. Elke gelowige is egter nie ‘n wetenskaplike nie, want empiriese kennis en kennis van God is dimensies van mekaar verwyder. Die een is rasioneel, die ander relasioneel.

Christus self het hierdie punt beklemtoon in die versie wat die manne en vroue van die Nuwe Hervorming Netwerk so pla. Sy woorde ‘Ek is die weg, die waarheid en die lewe’, beteken eintlik maar: Jy kan nie die waarheid ken as jy my nie ken nie. Die kennis, die ‘weet’, het na ons gekom in die vorm van vleis en bene. Dit is die Johannes evangelie se groot storie: Waarheid het ‘n mens geword en onder ons kom woon. Eerder as ‘n struikelblok vir die polities korrektes, is dit die grootste inklusiewe stap wat enige god nog ooit geneem het. Kennis van God is nou nie meer beperk tot ‘n ingeligte binnekring nie, en vereis nie kognitiewe (of morele) voortreflikheid nie (of Sakkie se ‘bedrading’ wat volgens hom nie aan almal behoort nie), maar slegs die vermoë om in ‘n verhouding te staan – ‘n kwalifikasie waaraan ‘n kind voldoen. Daarom dat hy die hele wet opsom deur te versoek dat ons hom moet liefhê. Wat kan makliker as dit wees?

Jeremia, in sy kommentaar oor die nuwe verbond, het iets te sê gehad oor hierdie nuwe manier van ‘ken’: ‘Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en en elkeen sy broer leer nie en sê: ‘Ken die Here; want hulle sal my almal ken, klein en groot onder hulle…’ Wat kan meer inklusief wees as dit?

Dit is hier waar die godsdienstige elite begin struikel en stik, want hulle posisie as onmisbare middelaars tussen die stom god en sy dowe volk word bedreig. Die leek kan en mag nie toegang tot God hê nie. Die leek het ‘n toergids nodig. En, by the way, ek is beskikbaar. Aldus Hillel, Marcion, Innocentius en Spangenberg. En so word die geskiedenis nog weereens herhaal. As ons God kan bestudeer soos Pasteur sy bakterieë bestudeer het, word kennis van God beperk tot diegene met eksklusiewe vaardighede. Hulle word dan die verligtes, ‘n neo-gnostici met mag oor die onnosel volk.

Die probleem met dié benadering is die noodwendige redusering van die godheid tot op die vlak waar hy onder ons mikroskope pas. En dit bring my terug na die twee maniere van ‘ken’. Jy kan ‘n vrou se liggaam leer ken met die reuk van rooiwyn en parfuum in die lug, of jy kan dit doen onder die reuk van formalien. Dit hang af of jy ‘n verliefde op wittebrood is of ‘n mediese student wat met sy eerste kadawer kennis maak. En die twee tipes kennis waarmee die twee ervarings afgesluit word is ligjare van mekaar verwyder, al was die onderwerp van studie dieselfde. Wie’t nou weer gesê ‘:Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry…Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie.’?

Sakkie, die reuk van formalien hang swaar oor jou en jou kollegas se werk. Dit is hoekom julle ‘n probleem het met die opstanding, want ‘n lykskouing vereis ‘n lyk.

En dit bring my terug na die twee tipes kennis: Is ons bestudering van Christus ‘n blote lykskouing – op dieselfde vlak as ‘n mediese student wat ‘n kadawer dissekteer, of is dit die kennis wat deur liefde gebore en gevoed word? Indien eersgenoemde, het ons inderdaad die leiding van ‘n wetenskaplike nodig. Indien laasgenoemde, kan ons staatmaak op ‘n inherente waarnemingsvermoë wat nie sub-rasioneel is nie (om Piet Mulder se geliefde term te gebruik vir die gesprekke waarin hy nie betrokke wil raak nie), maar eerder supra-rasioneel. Dit transendeer een-dimensionele kogniwiteit, en het niks te doen met naïewe subjektiwisme of mistisisme nie. Raai wie weet meer van Di. Harry kan Andrew Morton se boek lees, maar Andrew kan nie Harry s’n lees nie.

Daarom onderskei Christus tussen sien en ‘sien’, en hoor en ‘hoor’. Jy het spesiale oë en ore nodig vir laasgenoemde, sê hy, en verduidelik dat dit die rede is hoekom hy in gelykenisse praat. Gelykenisse is geënkodeerde boodskappe, en hoe jy julle interpreteer sê iets van jou antennas. (Lees gerus Matt 13 en Mark 4). My skape ken my stem, sê hy, en daarom noem hy sy woord ‘n tweesnydende swaard. Wanneer hy praat vind daar ‘n polarisasie plaas.

En dan word die skape en bokke geskei…

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

Join 30 other followers