Wat moet ons met Jurie van den Heever doen? (3)

Jurie van den Heever Wat moet ons met ons kerk doen copy
My weergawe van Jurie se voorblad simboliseer die woorde van Rom.1:22-25: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword…
hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepping vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.”

(Apologies to English readers. This is the third reflection on an Afrikaans book that is causing some disturbance in the Christian community over here in South Africa.)

“Maar ons spreek die wysheid van God, wat bestaan in verborgenheid wat bedek was en wat God van ewigheid af voorbeskik het tot ons heerlikheid, wat niemand van die heersers van hierdie wêreld geken het nie — want as hulle dit geken het, sou hulle die Here van die heerlikheid nie gekruisig het nie.” 

Paulus aan die Korinthiërs

Ons het reeds die punt gemaak dat die tipe Christenskap waarteen Jurie in opstand kom ons meer vertel van Jurie en sy sienings as van die Bybelse idee van geloof: Christene is mense wat kinders bang maak met die hel. Christene aanbid ‘n God wat ‘n moordenaar en boelie is. Christene gebruik die hiernamaals as ‘n magspel om lede te werf. Wetenskaplike bevindings help ons om beter en veilige lewens te lei omdat ons nou weet dat epidemies, aardbewings en vuurspuwende berge nie meer aan ‘n opportunistiese en wraaksugtige opperwese toegeskryf word nie. En so aan.

Die implikasie is vanselfsprekend: Geloof in Christus is lekker vir ouens wat so bietjie agter-die-klip is.

Die idee dat God ‘n inhiberende beheervraat is, en dat hy bedreig voel deur ons vryheid, is nie nuut nie. Volgens die Genesis verhaal is dit hierdie gedagte wat die mens laat wegdraai het van God, en wat die ideaal van onafhanklikheid en selfverwesenliking in hom/haar geplant het.

Ongeloof word dus moontlik gemaak sodra God onder verdenking is. En dit doen ons sommer maklik deur die “kerk” se wandade uit te wys, en dan te maak asof God die argitek van die kerkorde en haar tradisionele absurditeite is.

Boem! Die koeël is deur die kerk, en sommer deur God en Jesus ook.

Die Bottom Line…

Die enkele gedagte wat in Jurie se boek uitstaan as ‘n wanvoorstelling van die verskil tussen geloof en ongeloof, is die idee dat ons “ons fiktiewe posisie as kroon van die skepping” moet verruil vir die “voorreg om ‘n integrale deel van die Kosmos te wees.” So kan die self getransendeer word en is die uitsig “nie meer vanuit ‘n posisie van mag en eiebelang nie.”

Steven Pinker word aangehaal in die verband: “… occupying another’s vantage point and imagining his or her own emotions as if they were one’s own.”

Dit bring my by die vraag wat ek laas op hierdie blog gevra het: Versluier Jurie met opset wat in die Bybel staan, of is hy onbewus daarvan?

Die voorstel dat selfloosheid en die kweek van ‘n empatiese bewussyn bevorder kan word deur geloof in God en Christus af te sweer, spreek van majestueuse teologiese onkunde en/of verwarrring.

Die rede is voor die handliggend: Elke woord wat ooit uit die mond van God gegaan het, en wat gespreek is deur engele en profete en op talle ander maniere, en uiteindelik gekulmineer het in die lewe en lering van Jesus Christus, het ten doel gehad om die inherente narsisme van die mensdom te stuit.

Die sogenaamde Augustiniaanse idee van die “erfsonde,” wat soveel ontsteltenis veroorsaak in Jurie en Sakkie en Piet en Hansie se kringe, en wat afgemaak word as ‘n vyfde-eeuse konstruksie, moet geïnterpreteer word teen hierdie agtergrond.

Die Bybelse storie is van begin tot einde konsekwent en eenvoudig: Êrens in die geskiedenis van die mensdom het daar ‘n gebeure plaasgevind wat ons bewussyn geswaai het na die self en die belange van die self. Dit het gelei tot die fenomeen van “begeerte,” naamlik die drang en sug na dinge, mense en insidente wat die pelgrimstog na selfaktualisering en selfverwesenliking kan moontlik maak.

Die donker kant van hierdie avontuur is natuurlik ‘n onafwendbare afgestomptheid en gevoelsarmoede teenoor diegene wat nie waarde kan toevoeg tot die “ek” ideaal nie.

Terwyl ons lekker kan vuisslaan oor die historisiteit van die tuinverhaal, is die boodskap daarvan duidelik en ondebatteerbaar: Om betower te word deur die projeksie van ‘n toekomstige self wat groter en wonderliker is as die self van die hede, is om weg te kyk van die God wat “is” en nie “word” nie, en om vervreemd te word van ‘n vorm van levensonderhoud en groei wat uit hom uit spruit en alle hunkering na ander vorme van “word” oorbodig maak.

Kom ons kyk vir ‘n oomblik verby die vreemdheid daarvan dat die eerste motiveringspreker in die mensegeskiedenis ‘n slang was, en ons let op die boodskap agter die storie: Die essensie van menslike motivering, soos ons dit ken en verstaan, kan teruggetrek word na ‘n duister en bose mag wie se eksplisiete doel die verheffing van die self en die vernietiging van die liefde is.

Die sogenaamde “erfsonde” is dus niks anders as ‘n universele geneigdheid om die belange van die self bo die belange van ander te stel nie.

Ek is jammer, Jurie, maar ek dink dit is ‘n geniale beskrywing van die probleem van die wêreld waarin ons leef. Jy en Sakkie is welkom om julleself uit te sluit, maar ek is met hierdie vervloekte ding gebore, en dit het die rigting van my hele lewe bepaal.

Die woord wat die Bybel gebruik vir hierdie universele toestand van die mens is “ongeregtigheid.” En hier moet ons onmiddellik afstand doen van Calvinistiese konstruksies en ander denominasionele konnotasies wat ons aan die woord mag heg (die Engelse “righteousness” wat in Afrikaanse Bybels “vryspraak” geword het, eerder as die Hebreeuse tsedek en Griekse dikaiosune wat “justice” beteken).

Ongeregtigheid in die Bybel is dus niks anders as die onvermoë om reg te laat geskied aan ander nie, m.a.w. die onvermoë om ander te ag met dieselfde intense belang wat ons vir onsself koester en preserveer.

‘n Wraaksugtige Opperwese?

Die refrein van God se “wraaksug,” wat Jurie se boek kenmerk en hom so lekker vir Dawkins en sy tirade teenoor God laat aanhaal, is ‘n mistasting. Dit is duidelik dat Jurie nie God se aard en karakter verstaan nie.

Let daarop dat God se belang in die moord van Abel voortspruit uit die “bloed van Abel” wat uitroep uit die grond. Kain se sogenaamde “skuld” voor God onstaan as gevolg van dit wat hy aan sy broer gedoen het, nie omdat hy een of ander arbitrêre drif of drang of wet in God teëgestaan het nie.

Die rede hoekom God vir Kain aanspreeklik hou is nie wraaksug nie, maar liefde. As God bloot vir Kain sou “oorsien,” sou hy saam met Kain skuldig geword het aan ongeregtigheid. Abel word die “slagoffer” van Kain se ongeregtigheid, en God tree in as Abel se verdediger en dring aan op ‘n regstelling om die ewewig van geregtigheid te herstel.

Kain het ‘n lewe geneem, en nou skuld hy ‘n lewe.

Dis soos die boelie se pa wat hom voor stok kry omdat hy sy jonger boetie afgeknou het: “Jy het Junior seergemaak. Ek is lief vir Junior, daarom hou ek jou aanspreeklik. Jou skuld bly staan totdat jy regmaak met Junior. En jou regmaak beter op dieselfde vlak wees as jou oortreding.”

Hoe op dees aarde verander dit God in die boelie?

Die offersisteem van die Ou Testament is niks anders as ‘n verlengstuk van hierdie liefde van God nie, dus ‘n voorsiening vir die Kains van die wêreld om “reg te maak,” en vir die Abels om kompensasie te ontvang.

Die punt is dat God ook lief is vir die boelie, en dat Junior boonop self skuldig is aan sy eie tipe boeliery. God se liefde en geregtigheid vereis nie net ‘n betaling nie, maar help ons ook om die betaling te maak. Hy vereis die lam, maar dan voorsien hy dit.

Dit is genade, en dit is nie goedkoop nie. Daarom word restitusie dwarsdeur die Bybel voorgeskryf as deel van die regmaak of versoeningsproses, en altyd in ooreenstemming met die oortreding.

Die vader se liefde het ‘n finale doel: Hy wil hê die boelie en sy jonger broer moet versoen, en mekaar liefhê soos hy hulle liefhet. Dit is die “Konkryk van God en sy geregtigheid,” ‘n term wat grootliks ‘n niksseggende kerklike cliché geword het.

Beroof God se Wet ons van ons Vryheid?

God se “Wet” staan in diens van hierdie relasionele geregtigheid – ‘n stel reëls wat ons verbied om ons naaste te benadeel, met eksplisiete voorskrifte vir boetedoening indien ons dit wel doen.

‘n Oog-vir-‘n-oog maak nie die hele wêreld blind nie, soos Ghandi beweer het nie, maar gebied relasionele geregtigheid deur die oortreders daarvan aan die ontvangkant van hulle eie ongeregtighede te plaas. So word die ewewig van Deuteronomium en Levitikus se “skale van geregtigheid,” wat wêreldwyd op hofsale verskyn, herstel.

As ons nie hierdie onderbou het in ons benadering tot die Nuwe Testament nie, word Jesus se konstante verwysings na geregtigheid niksseggende mistiese praatjies. Dan word hy Jurie se “nobody” en “gewone mens” – met ‘n irrelevante boodskap.

As ons dit egter het, dan merk ons op dat Jesus die hele wet en profete opsom in die woorde “doen aan ander soos jy wil hê hulle aan jou moet doen,” en “jy moet jou naaste liefhê soos jouself.” Hier is die geregtigheidsformule – die onmoontlike opdrag om dieselfde bewussyn te koester teenoor andere as wat ons vir onsself het.

So vertel Jesus storie op storie om aan ons te verduidelik dat geen vorm van fanatiese wetsonderhouding die ongeregtigheid van die menslike hart kan demp nie. Die probleem is nie die Wet nie, maar dit wat binne ons aangaan. Daarom het hy nie gekom om die Wet te ontbind nie, maar te vervul.

Hy verduidelik dit deur te praat van ‘n praktiese geregtigheid wat groter is as die wettiese geregtigheid van die Fariseers en Skrifgeleerdes – ‘n geregtigheid wat die tirrannie van begeerte en die drang na selfgelding neutraliseer, en ons in staat sal stel om ons vyande lief te hê en dienaars van andere te wees.

Paulus het presies dieselfde storie: Jesus het gekom het om die skuld van ons ongeregtighede te betaal, maar ook om ons te verlos van die oorsaak daarvan. Dit het hy gedoen deur ‘n daadwerklike hartsverandering binne in ons te bewerk – ‘n bonatuurlike wedergeboorte deur die Gees van God – wat ons in staat stel om te deel in God se natuur van liefde en geregtigheid.

Die vereiste? Ons moet bereid wees om ons selfvertroue te vervang met ‘n vertroue op God. So sal die regverdige deur die geloof lewe. So sal ons ons narsistiese lewens verloor en die lewe van God vind wat ons in staat stel om selfloos en empaties te lewe.

Ons hoef dan nie meer offers te bring nie, maar ons word die offer – soos wat Jesus gedoen het. Dit beteken ons is bereid om ons lewens af te lê vir ander en hulle hoër te ag as onsself. Dit is geregtigheid. Dit is die Koninkryk van God.

Die “Vervulling van die Wet”

Hierdie fenominale kapasiteit vir liefde vervul die intensie van die Wet. In Paulus se woorde: Die liefde doen die naaste geen kwaad nie; daarom is die liefde die vervulling van die Wet.

Diegene wat deur die “Gees gelei” word is nie onder die Wet nie, want hulle doen alles en meer wat deur die Wet vereis word. Die verskil is dat hulle dit spontaan en onbewus doen. Hulle is die kinders van God, en deel in hulle Vader se natuur.

Die gedagte dat hierdie boodskap ‘n persoon in ‘n “posisie van mag en eiebelang” plaas wat lekker opgelos kan word deur jouself te sien as ‘n integrale deel van ‘n godlose Kosmos is absurd. Die Kosmos het nog nooit enigiemand tot verantwoording geroep vir dade van onreg teenoor minder bevoorregtes nie. Die Kosmos het nooit haar lewe vir ons gegee om ons te verlos van ons narsistiese selfobsessies nie, en om die ellelange lys van aanklagte wat teenoor ons staan vir ons relasionele wandade uit te wis nie.

Ten Slotte… 

Meer as enigiets anders is dit die valse voorstel van hierdie sentrale boodskap van die Bybel wat Jurie se boek ongeloofwaardig maak. God word uitgewys as die probleem, eerder as ons. As ons maar net ontslae kan raak van God, dan sal alles uitwerk.

Volgens die evangelies is dit hierdie tipe argumentering wat gelei het tot Jesus se kruisiging. Die skuldiges het hulle skuld projekteer op die onskuldige, en hulleself verontskuldig.

Let daarop dat Jurie Bybelwetenskaplike op Bybelwetenskaplike aanhaal om sy konklusies te staaf. Hierdie ouens weet meer as ons almal, sê Jurie. Hulle het agter die gordyn ingeloer, en ons moet na hulle luister.

Dit fassineer my dat nie een van hierdie intellektuele reuse die eenvoudige liefdes- en geregtigheidsboodskap van die Bybel snap soos dit in ‘n paar paragrawe hierbo uiteengesit is nie.

En dit laat my wonder of ‘n persoon fenominale geleerdheid nodig het om blind te raak vir iets wat so opsigtelik is…

Advertisements

2 thoughts on “Wat moet ons met Jurie van den Heever doen? (3)

  1. bodie lister October 3, 2017 / 12:18 pm

    Do you have this in English?

  2. Tobie October 3, 2017 / 1:37 pm

    Hi Bodie. Sorry, I don’t. 😦

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s