Wat moet ons met Jurie van den Heever doen? (1)

jurie-vd-heever-kerk1
My weergawe van Jurie se voorblad simboliseer die woorde van Rom.1:22-25: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword…
hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepping vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.”

(Apologies to English readers. I am reflecting on a new Afrikaans book that is causing some disturbance in the Christian community over here. The author, a well known South African palaeontologist, suggests that churchgoers should drop the idea of an almighty, omniscient and all knowing God, who has a son named Jesus, for a “natural spirituality” or “ecomorality.” How can one not say something?)

“A man can no more diminish God´s glory by refusing to worship Him than a lunatic can put out the sun by scribbling `darkness´ on the wall of his cell.” -C.S. Lewis

Wat maak ‘n mens met Jurie van den Heever en sy nuwe boek? (“Wat moet ons met ons Kerk doen?”)

Ek sou graag niks wou doen nie. Toe ek tien jaar gelede my verhouding met denominasionele Christenskap gebreek het, het ek belangstelling verloor in kerkpolitiek en alles wat daarmee gepaard gaan.

Ek het ook belangstelling verloor in geeslose fakulteitsteologie en die absurde idee dat daar ‘n kousale verband tussen akademiese geleerdheid (van watter aard ook al) en kennis van God bestaan.

So ek hou gewoonlik verby boeke soos Jurie s’n.

Maar ek kon nie help om op te merk dat Jurie se boek vir ‘n rukkie hier in Bloem se Exclusive Books ‘n “bestseller” geword het nie. Dit beteken dat mense die boek lees, en (soos dit dikwels gaan met nominale kerkmense) dat van hulle glo wat hulle lees.

En so het ek met ‘n sug my kopie gekry (teen ‘n pynlike prys van 10 Cappuccinos), en ook begin lees…

Jurie se “Kerk”

Die boek gee ons wel insig in die probleem van Jurie se kerk (Hy is klaarblyklik steeds ‘n NG lidmaat – vandaar die “ons”), maar dit het eerder met Jurie se denkwyse en benadering tot teologie te doen as met sy gevolgtrekkings. Jurie openbaar op ‘n besondere wyse die psige van ‘n lidmaat wat ontnugter is met ‘n kerkgod wat geskep is in die naam van godsdienstradisie en menslike oorlewering. (Daarmee suggereer ek hoegenaamd nie dat alle NG mense ‘n kerkgod aanbid nie.)

Dit is Calvyn en Calvinisme net waar jy kyk, en natuurlik Augustinus. Kuyper en Dooyeweerd steek ook kop uit.

En hier is Jurie se voorstel: Ons moet breek met ‘n middeleeuse Augustiniaanse paradigma wat daartoe gelei het dat die Christelike godsdiens en teologie nou in ‘n krisis verkeer. Maar let op: Dit is nie net NG lidmate wat moet herbesin oor hul geloof nie, maar sommer ons almal.

Huh?

Dis Jurie se reg om sy kerk aan te vat, en te besin oor haar teologie. Maar hy behoort dit daar diep binne in sy kerk te doen. Wat hy nie moet doen nie is om God en Jesus Christus op die markplein aan te vat, en sy aanval te verdedig met absurditeite wat lewensvreemd is vir gelowiges wat buite sy kerktradisie staan.

Hierdie is ‘n ou laai van ongelowige/afvallige susterskerklidmate en -professore. God is onder verdenking want die “kerk” het allerhande vreeslike goed aan ons gedoen, soos om apartheid te regverdig uit die Bybel, en ons te verbied om te dans, en ons te dreig met ‘n hel waar demone ons gaan martel as ons na Rodriguez se musiek luister, en en en. Nou is ons kwaad.

As die kerkgod val dan tuimel sy aanbidders saam na benede. Dit maak seer en dis ‘n verleentheid. So kom ons kyk wie ons kan saamtrek.

Met groot respek: Ek ken nie hierdie god van wie jy praat nie, Jurie. Hy het niks met my uit te waai nie, en dit voel vir my ‘n bietjie verwaand dat jy insunieer dat ek en ander oor ons geloof moet besin omdat jy joune verloor het (of nooit gevind het nie). Jy laat my dink aan ‘n vreemdeling wat my in die middel van die nag wakkerklop en vertel dat ek my vrou moet los omdat sy huweliksverhouding nie op dreef kom nie. Hy het my innige simpatie, maar ek gaan nie na hom luister nie. En ek sal almal in die straat af vertel om hom ook te ignoreer.

Weet Jurie dat daar talle gelowiges wereldwyd is wat nie ‘n saak het met Augustinus se teologie nie, en hordes wat oortuig is dat Calvyn nooit die God geken het in wie se naam hy sy teologiese opponente laat opsluit, martel en verbrand het nie?

Weet hy van die Hervormers se terreurveldtog teenoor groepe soos die Anabaptiste, en dat lg. sal giggel vanuit hul bloedbevlekte grafte as hulle moet hoor dat iemand oor Christenskap wil herbesin op grond van goed wat Augustinus en Calvyn kwytgeraak het?

Weet hy dat die “kerk” (die ander een) ‘n formidabele mag was om apartheid tot ‘n einde te bring?

En so kan ons aangaan…

Die Christenskap waarteen Jurie ten velde trek is ‘n karikatuur wat soos Frankenstein se monster aanmekaargeweef is vanuit ‘n seleksie van denominasionele persepsies en onkundige afleidings, meesal vanuit die Calvinisme en hiper-fundamentalisme, en is (genadiglik) nie verteenwoordigend van die Christelike geloof soos dit in die eerste eeue bestaan het nie, en steeds in menige vorme buite institusionele denominasionalisme bestaan nie.

 Jurie se god

Die god waarteen Jurie in opstand kom is net so karikatuuragtig.

Om maar een voorbeeld te noem: Jurie drup van sarkasme as hy die Bybel se skeppingsverhaal gebruik om na God te verwys as ‘n “nutsman.” En dan noem hy God ‘n leuenaar omdat Adam en Eva kwansuis nie oombliklik gesterf het soos God gesê het nie.

‘n Mens sou graag vir Jurie wou herinner dat die “dood” ietsie meer is in die Bybel as om bloot jou laaste asem uit te blaas, maar dit sal nutteloos wees. Jurie weier botweg om die Skrif te gebruik om die Skrif te interpreteer (‘n majestieuse hermeneutiese beginsels), want hy glo nie in die inspirasie van die Skrif nie. Die Bybel het ook maar net ge-ewoleer, soos alles rondom ons. Daar is nie sprake van enige intelligensie agter die skerms nie.

Dit is dus onmoontlik om vanuit ‘n geloofsperspektief ‘n sinvolle gesprek met Jurie te hê. Dit is jammer, want ek sou graag vir hom ‘n paar goed wou sê. Soos dat geen boek in die wereld meer eksplisiet is oor die versluiering van God as die Bybel self nie, en dat God oral daarin getuig van sy gewoonte om sy spore uit te vee vir mense wie hom soos ’n navorsingsobjek wil benader.

Hierdie karaktertrek van God het niks met moedswilligheid te doen nie, en alles met liefde. As die ontdekking en kennis van God, en ons toegang tot hom, met dieselfde voorwaardes gekom het as wat vereis word deur die fossiele in die grotte waaroor Jurie so lekker praat, en wat onlangs weer in die nuus was, dan was ouens soos Jurie ons profete en ons was die leke. En dan het die ongeletterdes van hierdie wereld nie net ‘n sosiale agterstand gehad nie, maar ook ‘n geestelike een.

Die Bybel sê dit werk andersom. God ontsluier nie homself, of antwoord die vraag oor sy bestaan, op ‘n wyse wat afhanklik is van die nuutste “navorsingmetodiek” waaroor Jurie so opgewonde is nie, en waartoe hy uitmuntende toegang het as ‘n geleerde wit professor nie.

Nee, hy doen dit op ‘n manier wat toeganklik is vir ‘n weeskind in die strate van Calcutta en ‘n enkelouer in droogtegeteisterde Midde-Afrika wie haar kinders aan die lewe hou met broodkrummels en gebed.

Jurie sê hy slimmer as sy. Haar gebede is “selfterapie” en niks meer nie. Daarmee verwoes hy die hoop van elke slagoffer van ongeregtigheid wie ooit in sy/haar diepste nood vir God aangeroep en op hom vertrou het toe niks anders meer gewerk het nie.

Jurie kan nie aanvaar dat God homself kan openbaar buite die sfeer van dit wat ons “wetenskap” noem nie. Hy kan nie aanvaar dat die wyse waarop die Bybel oor God se selfopenbaring praat ooreenstem met die wyse waarop ‘n vrou kies om haarself te ontsluier vir haar man nie, en dat dit haar prerogatief is om dit te doen soos en wanneer sy wil nie, en dit te beperk tot ‘n verhouding van wedersydse liefde en kennis wat kopkennis (en Jurie se geliefde “rede” waarna hy so dikwels verwys) transendeer nie.

Nie alle ontdekkings hang af van die inisiatief of slimmigheid van die ontdekkingreisiger nie, veral nie as dit heilige grond is wat ontdek word nie.

En dit laat my weer dink aan die man wat my wakkerklop in die middel van die nag. “Ons moet herbesin oor jou verhouding met jou vrou,” se hy vir my. “Ek het navorsing gedoen, en die Victoriaanse beskouiing van die huwelik is nonsens. Jy moet uit hierdie ding kom. Daar is geen intimiteit of seksualiteit in jou huwelik nie. Ek sien niks nie en en ek vind geen bewyse daarvoor nie. Ek weet. Ek is ‘n Paleontoloog.”

Ek onthou ‘n vakansie lank gelede. Ek het my 1985 Honda XR500 saamgevat, en soggens vroegskemer by die huis uitgesluip terwyl almal geslaap het. Ek het langs die wit strande afgery tot by die langste strand, met die koelte van die seebries in my gesig. Daar het ek tussen die golwe geswem en dryf, waarna ek op die strand gaan sit en kyk het hoe die son opkom oor die magtige Indiese Oseaan. Ek het my verwonder oor alles – die seemeeue, die branders, die sout op my lippe, die onuitspreeklike heerlikheid van die lewe wat God vir ons geskenk het. God was oral, en hy was so sigbaar soos die dag wat rondom my ontvou het. Ek het met hom gepraat, en gepraat – in verwondering oor sy beeldskoonheid, en oor die voorreg om te kan wees. Daarna het ek ‘n entjie opgestap met die strand, tot waar ek kon kofffie kry en sit en skryf oor God. Ek was betower, en vredevol, en gelukkig.

Dit het my jare geneem om uit te vind dat hierdie ongelooflike emosie nie vlietend hoef te wees nie, maar dat dit so deel van ‘n persoon kan word soos asemhaal. Om God te sien, en dankbaar te wees, en te vergeet van jouself en jou ambisies, is binne bereik van ons almal. En daarmee saam die onuitspreeklike vergenoegdheid en vreugde wat die saad is van alle selfloosheid en liefde en geregtigheid teenoor ander.

Selfterapie? Daar is net twee moontlikhede, Jurie. Of jy weet nie waarvan jy praat nie, of ek is die briljantste terapeut wat nog ooit geleef het. Veral as ek in ag neem hoe mislik, miserabel en depressief ek was voor my terapie.

(Word vervolg)