Wat moet ons met Jurie van den Heever doen? (2)

Jurie van den Heever Wat moet ons met ons kerk doen
My weergawe van Jurie se voorblad simboliseer die woorde van Rom.1:22-25: “Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword…
hulle wat die waarheid van God verruil het vir die leuen en die skepping vereer en gedien het bo die Skepper wat geprys moet word tot in ewigheid.”

(Apologies to English readers. I am still reflecting on an Afrikaans book that is causing some disturbance in the Christian community over here. The author, a well known South African palaeontologist, suggests that churchgoers should drop the idea of an almighty, omniscient and all knowing God, who has a son named Jesus, for a “natural spirituality” or “ecomorality.”)

“The riddles of God are more satisfying than the solutions of man.” G.K. Chesterton

In sy boek Wat Moet Ons Met Ons Kerk doen, stel Jurie van den Heever God en Christenskap op so ‘n wyse voor dat geen regdenkende mens iets daarmee te doen sal wil hê nie. So berei hy sy lesers voor vir sy eie groot antwoord: ‘n “Natuurspiritualiteit” of “ekomoralitiet” wat losweg geskoei is op die volgende beginsels:

  • Daar hoef geen God erken of aanbid te word nie. (Inderdaad, want daar is “bewese navorsing” wat die idee van ‘n Almagtige, Alwetende en Alsiende God weerlê!)
  • Gebed as ‘n “gesprek met ‘n opperwese” is nie ‘n opsie nie, want dit bestaan nie. Dit is bloot ‘n vorm van selfterapie.
  • Daar bestaan nie iets soos ‘n menslike “siel” of “gees” nie. Die mens is ‘n somtotaal van biologiese funksies.
  • Daar is geen sprake van lewe na die dood nie. Die hiernamaals is ‘n mite en fopspeen. Enige godsdiens wat die idee van ‘n nadoodse voortbestaan steun is besig met ‘n “magspel om steun te werf.” (!)
  • Daar is geen eindoordeel of finale geregtigheid nie.
  • Jesus was ‘n “nobody amongst nobodies” – ‘n “verstote Jood” wat misluk het in sy poging om Israel godsdienstig te vernuwe. Van sy uitsprake en voorspellings het nie “steek gehou nie.” Die rede hoekom hy aan God as sy vader gedink het is omdat hy in werklikheid ‘n vaderlose uitgeworpene was. Natuurlik het hy nooit opgestaan uit die dood nie, nie opgevaar na die hemel nie en is daar geen sprake daarvan dat hy ooit sal terugkeer aarde toe nie.
  • Die God van wie ons lees in die Ou Testament is iesegrimmig, inmengerig en manipulerend. Die ateïs Richard Dawkins is korrek as hy van hom praat as ‘n “unjust, unforgiving control-freak; a vindictive, bloodthirsty ethnic cleanser; a misogynistic, homophobic, racist, infanticidal, genocidal, filicidal, pestilential, megalomaniacal, sadomasochistic, capriciously malevolent bully.”
  • Daar is goeie nuus! Die biologie bied ‘n gesonde en spiritueel bevredigende alternatief vir ‘n “fundamentalistiese godsbegrip.” (Anders as die Bybelse God is die aarde heilig en onderhou lewe!)
  • Die slotsom is eenvoudig: Enige formulering oor die betekenis van ons aardse bestaan kan nie sonder ‘n “wetenskaplike onderbou en veral die insette van die ewolusionere Biologie geskied nie.” Die biologie bied ‘n uitsig op die kosmos wat veel meer sê as wat enige tradisionele vorm van geloof kan hoop om te doen. Dit spreek tot ‘n spirituele dimensie.

Ek wonder oor die venyn in Jurie se boek.

Ek wonder oor die ekstreme verwerping van klassieke spiritualiteit in alle vorme, en hoekom iemand ‘n behoefte sou hê om dit te herdefinieer en te reduseer tot ‘n blote verwondering oor/bewondering van die materiële. (Is die Mona Lisa meer bewonderingswaardig vir mense wat sukkel om Leonardo binne-in die skildery te vind, en daarom aflei dat sy haarself op een of ander wyse geskep het? Verwar ons nie dalk raaiselagtigheid met verwondering nie?)

Ek wonder hoekom Jurie bereid is om sy akademiese integriteit te kompromiteer deur absurde stellings te maak, soos dat daar “bewese navorsing” bestaan wat die dogma van ‘n “Almagtige, Alwetende en Alsiende God” weerlê, asook die bestaan van “‘n siel” en “die wederkoms.” Hoe op aarde bewys ‘n mens dit? Ons weet mos die afwesigheid van ‘n bewys is nie ‘n bewys van afwesigheid nie.

Ek wonder oor Jurie se blatante oneerlikheid, as hy die eksplisiete stelling maak dat enige godsdiens wat die idee van ‘n nadoodse voortbestaan steun besig is met ‘n “magspel om steun te werf.” Dit is nie waar nie. Met die stelling beskuldig hy elke groep opregte gelowiges deur die eeue, wat glo of geglo het in een of ander vorm van ‘n spirituele bestaan buite die grense van hul huidige aardse liggaam en vlees, van duister motiewe. Die sin is so ‘n growwe veralgemening dat geen eerstejaar op universiteit oorgesien sal word vir dit nie.

Ek wonder oor Jurie se voorstel dat daar belangrike aanpassing in die “kerk” nodig is. As ons alles moet glo in sy boek, dan bestaan daar nie iets soos ‘n kerk nie en is daar ook geen gronde vir ‘n kerk nie. Dan is sy voorstel net so sinvol soos om Sinterklaas se huis te probeer herbou of die plaaslike tandemuisklub te probeer hervorm.

En ek wonder natuurlik oor die slotsom van die boek – dat mense soos Jurie eintlik die rol van die geestelike leier en profeet in die samelewing moet oorneem. As Jurie beweer dat die biologie tot ‘n spirituele dimensie spreek en ‘n uitsig op die kosmos bied wat veel meer sê as wat enige tradisionele vorm van geloof kan hoop om te doen, dan beweer hy maar eintlik dat ouens soos hy veel meer sê as diegene wie op ‘n tradisionele wyse oor geloof dink, besin en praat, en dit sluit Jesus en Paulus in. (Onthou, die enigste wyse hoe die biologie en paleontologie met die leek kan “praat” is deur die bemiddeling van diegene wie dit bestudeer en ken.)

Maar te midde van al my verwondering oor Jurie, wonder ek die heel meeste of hy onkundig is rondom dit wat werklik in die Bybel staan, en of hy dit met opset versluier.

Meer hieroor volgende keer…